Showing posts with label afrikaans. Show all posts
Showing posts with label afrikaans. Show all posts

Friday, June 08, 2007




Voëls dophou in die tuin is iets wat tot die kleinkinders geniet wanneer hulle kom kuier.Daar is voerbakke en waterdrinkbakke op strategiese plekke waar die voëltjies die katte kan sien. Die blomme van aalwyne en plakkies (links bo op die foto) is baie gewild by suikerbekkies en daarvan is daar oorgenoeg in die aalwyntuin.
Bome soos die vyeboom, bessies en blomme vir nektar is nodig om suikerbekkies en die vrugte eetende voëltjies te onthaal. Die behoeftes van die saadeters is redelik maklik bevredig deur voëltjiekos te koop en in 'n groot bak of skinkbord te gooi, maar dit is baie interessanter om ook vir die saadeters tuin te maak. Ons het 'n klein wildernis in die een hoekie van die tuin. Dit is 'n plesier om die voëls dop te hou terwyl hulle hang en swaai aan die grashalms terwyl hulle eet.
Begin die wildegrashoekie deur van die voëltjiesaad en ander grassaad te saai. Wilde saad waai spoedig daarby in. Verwyder onkruid en los alle grasse, koring, hawer en ander graansoorte. Met die tyd sal daar 'n groot verskeidenheid grasse groei en 'n paar veldmuise mag dalk ook intrek (regte veldmuisie gaan nie in die huis in nie).

Tuesday, April 17, 2007

Die spinnekop met die mombakkies wat in nagmerries voorkom

Die spinnekop met die mombakkies wat in nagmerries voorkom.
Die Solifugidae spinnekoppe, hier bekend as haarskeerder of roman, kom wyd versprei voor.Vanaf Suid Afrika deur Afrika, Asië en Europa.
Ten spyte van die wye verspreiding sien mens hulle min omdat hulle net in die nag uitkom en dan skuil hulle sover moontlik omdat hulle geen gif het nie en dus taamlik blootgestel is aan hulle vyande. Die tekortkoming om sonder gif te wees word uitgebalanseer deur spoed en twee sterk kake om die prooi vas te vang. Die lang hare is sensitief vir trillings en om te voel waar hulle is, ook die twee lang voelers voorentoe is sterk ontwikkel. Hulle moet vinnig reageer op enigiets wat om hulle gebeur.

Ek het 'n klompie sywurm-eiers persent gekry en het besluit om 'n paar hartjies te laat spin vir geskenkies en ook om die kleinders te laat ondervind wat ons so lank gelede so geniet het.

Die meeste wurms het reeds gespin en gepapie, toe ek laatnag iets hoor ritsel by my rekenaar-lesenaar en vaskyk in 'n groot haarskeerder. Ons is heel op ons gemak sover dit goggas en spinnekoppe aanbetref. Ons sal eerder hardloop vir 'n kamera as iets om die diertjies mee dood te maak, maar die haarskeerder laat mens voete oplig en bo-op die stoel sit. Hulle hardloop vir skuiling en as jy in die middel van die kamer staan is jy skuiling. Daardie nag het ons vier verskillende groottes getel, so daar was ten minste vier. Na die eerste twee aande het ek my nie meer aan hulle gesteur nie en na so twee weke het ons die spinnekoppe nie weer gesien nie. Ek het oorspronklik gedink hulle was aangelok deur die sywurms, maar dit was baie langer as twee weke voordat al die sywurms, papies, motte en eiers afgehandel was.
As hulle iets geëet het was dit min.
Na hierdie kennismakings voel ek nie meer so skrikkerig vir hierdie onskadelike spinnekoppe nie. Altans so dink ek. Daardie gesig kan nie mooi wees vir geen mens nie en as een onverwags sy kop langs die rekenaar uitsteek dan skrik mens erger as wanneer iemand met 'n mombakkies agter 'n deur uitspring.