Tuesday, April 17, 2007

Die spinnekop met die mombakkies wat in nagmerries voorkom

Die spinnekop met die mombakkies wat in nagmerries voorkom.
Die Solifugidae spinnekoppe, hier bekend as haarskeerder of roman, kom wyd versprei voor.Vanaf Suid Afrika deur Afrika, Asië en Europa.
Ten spyte van die wye verspreiding sien mens hulle min omdat hulle net in die nag uitkom en dan skuil hulle sover moontlik omdat hulle geen gif het nie en dus taamlik blootgestel is aan hulle vyande. Die tekortkoming om sonder gif te wees word uitgebalanseer deur spoed en twee sterk kake om die prooi vas te vang. Die lang hare is sensitief vir trillings en om te voel waar hulle is, ook die twee lang voelers voorentoe is sterk ontwikkel. Hulle moet vinnig reageer op enigiets wat om hulle gebeur.

Ek het 'n klompie sywurm-eiers persent gekry en het besluit om 'n paar hartjies te laat spin vir geskenkies en ook om die kleinders te laat ondervind wat ons so lank gelede so geniet het.

Die meeste wurms het reeds gespin en gepapie, toe ek laatnag iets hoor ritsel by my rekenaar-lesenaar en vaskyk in 'n groot haarskeerder. Ons is heel op ons gemak sover dit goggas en spinnekoppe aanbetref. Ons sal eerder hardloop vir 'n kamera as iets om die diertjies mee dood te maak, maar die haarskeerder laat mens voete oplig en bo-op die stoel sit. Hulle hardloop vir skuiling en as jy in die middel van die kamer staan is jy skuiling. Daardie nag het ons vier verskillende groottes getel, so daar was ten minste vier. Na die eerste twee aande het ek my nie meer aan hulle gesteur nie en na so twee weke het ons die spinnekoppe nie weer gesien nie. Ek het oorspronklik gedink hulle was aangelok deur die sywurms, maar dit was baie langer as twee weke voordat al die sywurms, papies, motte en eiers afgehandel was.
As hulle iets geëet het was dit min.
Na hierdie kennismakings voel ek nie meer so skrikkerig vir hierdie onskadelike spinnekoppe nie. Altans so dink ek. Daardie gesig kan nie mooi wees vir geen mens nie en as een onverwags sy kop langs die rekenaar uitsteek dan skrik mens erger as wanneer iemand met 'n mombakkies agter 'n deur uitspring.