Thursday, November 16, 2006

Spitzkoppe se blink klippies

Spitzkoppe se blink klippies. 'n Rykdom van kristalle, edelstene, rare plante, onbekende insekte, diere, sprokies, bygelowe, moord en avontuur. Dit is geen wonder dat daar 'n spesiale aura om hierdie berge is nie. Bewonder die Spitskoppe berge liewer op 'n afstand tensy jy baie betroubare kontakte het om nader te gaan







Die Spitzkoppe is pragtig op 'n foto en word dikwels geskilder.






Die koppies net voor die Spitzkoppe aan die weskus se kant op pad terug na Windhoek. Die poort na 'n geologiese wonderland van kristalle en edelstene in die oorspronklike Damara gebied. Die werklike gebied waar die kristalle is, kan net bereik word deur 'n vierwiel motor of 'n donkiekar/perdekar.
Die inwoners ken die klippe en kristalle. Nie net die volksname nie maar ook die wetenskaplike benaming wat nodig is vir die verkoop van die klippe by hulle informele stalletjies langs die paaie en daar word natuurlik ook gehandel met die winkels.
Let wel. Die minerale is die wettige eiendom van die eienaars van die gebied - dit "lê nie rond vir optel en vat nie" .

















By die stalletjies is soveel om deur te kyk, dit is baie moeilik om die versoeking te weerstaan en ek vorder nie ver voordat my hande vol is nie. My beursie was ook al te vinnig leeg. Vir my is die kristalle enige tyd mooier as 'n geslypte edelsteen.
Hierdie is net 'n paar van die stalletjies. Die kristalle is beduidend goedkoper as in enige van die winkels in Nambië wat die kristalle, edelstene en semi-edelstene verkoop.








Sunday, November 12, 2006

Die soutpad en Aloe asperifolia die woestynaalwyn.

Die plan is, Windhoek na Karibib met 'n besoek aan Usakos en dan die kortpad grondpad uitdraai na Hentiesbaai, kusaf met die soutpad tot by Swakopmund en Walvisbaai.
Die vinnige trippie met die soutpad is spesiaal om die woestynaalwyn Aloe asperifolia te sien en natuurlik 'n paar fotos te neem. Entlik is dit die eerste rede. Ons stel ook belang in die pragtige kristalle van die Spitzkoppe. Vir nou gaan ons eers vir die aalwyne.
Die soutpad is iets baie spesiaal - Die pad is werklik gemaak van sout uit die vele soutpanne wat voorkom aan die weskus van Namibië. Die gips wat voorkom in die soutmengsel van die panne, verbind met die sand en die sout trek water uit die mis-weer wat die mengsel klam hou sodat dit nie 'n droë kors vorm nie. Die soutpad ry enige tyd net so lekker soos teerpad. Dit is baie goedkoop om te bou maar die vangplek is dat dit nie mag uitdroog of natreën nie.



Karibib die strate is ongelooflik stil. Skynbaar is die enigste beweging by die paar winkels in die hoofweg, die dwarstraat waar ek staan om die foto te neem. Merkwaardig is hoe skoon die dorpie is, geen rommel te sien nie.



By Usakos is dit warm en droog. die foto hierbo is geneem in die ou begrafplaas van Usakos. Ons het verwag om die Aloe hereroensis in blom te sien, maar soos dit blyk was die reën nie genoeg nie. Daar is 'n effe groenigheid in die middel van die aalwynrosette en dit sal hierdie aalwyne hou tot die volgende reën teen die einde van 2006, net so twee tot vier maande om te wag - as dit 'n goeie reënjaar sal wees.



Net verby Usakos het ons afgedraai en die grondpad gevat deur die woestyn tot by Hentiesbaai. Sulke gras het die woestynbewoners vir 100 jaar nie gesien nie.



Die pad tussen Swakopmund en Walvisbaai. Pragtige sandduine.


Foto onder:- 'n Kraan is besig om 'n gestrande vissersboot uit te trek.








'n Paar eeue gelede sou dit seker 'n groot teleurstelling gewees het om hier te strand. Niks behalwe sandduine in sig, maar dit is darem nie heeltemal so erg nie, dit is net in paar kilometers tot by die monding van die Swakoprivier. Al lyk die rivier soos 'n droë sand sloot sal daar wel water onder die sand in die rivierloop wees. Die hitte langs die see met die koue seestrome, is nie naastenby so warm soos die temperatuur van die woestyn in die binneland nie.








Aloe asperifolia die Namib aalwyn. Die dowwe kleur van die plante pas aan by die dorre habitat waarin hulle groei.
Die blomtyd vir hierdie groep Aloe asperifolia was reeds verby. 'n Enkelle laat blomsteel wat skuins dwars uitsteek is wel ietwat yler as normaal, maar dit is tipies hoe hierdie aalwyn blom.





Een van die bome wat aangepas is om in die woestyn te oorleef. Die hoogste punt van die takke is nie meer as 40 cm nie. Onder die grond is 'n groot sappige stam

Friday, November 10, 2006

aalwyn en bobbejaan om windhoek

'n Aalwyn en bobbejaan, 'n kykie in Windhoek

Windhoek is netjies en rustig geleë tussen berge - klein vir 'n stad, vernaam waar dit 'n hoofstad is. Wilde diere soos koedoe(kudu), jakkalse, stokstertmeerkat en 'n groot verskeidenheid koggelmanders en akkedisse kan in die stad en die heuwels gesien word, vernaam ten tye van droogtes. Voëls en insekte is in 'n groot verskeidenheid te sien.


Die aalwyn Aloe littoralis op die foto is Windhoek se wapen embleem. Hierdie aalwyn groei maklik 3 meter hoog, gelukkig blom dit op 'n jong ouderdom lank voordat daardie hoogte bereik word. Aloe littoralis het geen probleem met die ryp wat elke jaar voorkom in die gebied nie. Blomtyd is vroeg in die winter voordat dit begin ryp. Die blomstingels vorm 'n kandelaar.


Foto links is Windhoek in die winter. Die kwik daal heel dikwels onder vriespunt en selfs tot soveel as -6 grade Celsius, maar sodra die son opkom styg die kwik vinnig na n' lekker dag.

Aloe littoralis is ook aangepas by die winters en blom vroeg in die winter voordat die blomme kan vries.
Aloe littoralis is ook aangepas by die winters en blom vroeg in die winter voordat die blomme kan vries.

Kambi die koedoe op die gasteplaas Elisenheim net buite Windhoek
kambi se blog












Die bobbejane is wel oulik om na te kyk, maar nie as hulle op 'n rooftog om kos te vind in die buurt is nie. 'n Bobbejaan het gevaarlike tande en hulle is rats en sterk.


Hulle sal selfs 'n man kan doodmaak en is 'n groot gevaar vir kinders en ook vir honde. Die foto is geneem van 'n groot mannetjie. Hy het gekom om die lekker ryp papaja in die tuin te oes. Ons wou hom nie ontstel nie en het die foto deur die venster geneem. Dit lyk nou asof die bobbejaan agter tralies is, maar in werklikheid was dit ons wat vasgevang is agter die tralies in die huis.











Die geitjie (gecko) is te oulik. Hulle tone is aangepas om te kan klou (vassuig) sodat hulle op die plafon met gerief kan hardloop. Die pootjies voel sooos fluweel as hy op jou hand sit. Op die mat dink hierdie een dat hy op boombas is en onsigbaar sal wees as hy stilsit. Dit is ongelukkig maklik om hom nie te sien nie en dan op hom te trap. Nou is die reël dat enige geitjie op die mat word buite gesit. As hy slim raak en op die muur of plafon bly kan hy intrek.

Sunday, November 05, 2006

hou die sonkant bo


Ons pak die rit in die land van sonskyn aan, vanaf Noordoewer in die suide.
Die helder groen skakerings na die buitengewone reën vroeg in die jaar 2006 het nou weer verkleur na die sagte pastelkleurige skakerings wat so mooi is van Namibie.
Namibie het net twee seisoene - somer en winter. Dit is nou September maand, wat veronderstel is om lente te wees, maar hier is dit die begin van 'n heerlike lang somer. Die droë warm somers is nie so drukkend soos die vogtige hitte van somers in tropiese gebiede nie, maar die temperature in die son is gevaarlik.

Die suidelike semi-woestyn van Namibie is die habitat van Aloe dichotoma, die kokerboom.


Dit was 'n aangename ontdekking om op hierdie jong kokerboom af te kom. Min saad ontkiem in hierdie droe gebied en nog minder van die plantjies haal hierdie grootte. Die feit dat daar mense is wat die jong boompies onwettig uithaal is tragies, vernaam omdat die boompies selde aanpas en vrek buite hulle gebied. Ons het saad van Aloe dichotoma gesaai. Hulle groei maklik van saad as die drang om water te gee beheer word en is dan reeds aangepas vir die tuin.
Die afstande tussen dorpies is groot. Vanaf die grens by Noordoewer aan die Oranjerivier tot by Gruenau is 120 km; dan 147 km tot Keetmanshoop; 220 km tot by Mariental; 174 km na Rehoboth en 87 km tot Windhoek waar ons 'n paar dae vertoef.


Hierdie kokerbome met malvas en die baie oulike hoekie met petunias groei in die tuin van 'n petrolstasie met Bed&ontbyt geriewe, naby Gruenau. Oorkant die pad is daar 'n ry informele stalletjies gemik op die toeriste. Met die groot afstande tussen dorpe ry min toeriste verby 'n petrolstasie, vernaam hierdie een wat baie vrolik lyk in hierdie warm gebied.


Die informele stalletjies is skoon en skep 'n goeie indruk. Die droë heuwels in die agtergrond maak 'n mooi foto en waarsku dat dit erg warm is in die somer.
Let op die foto onder regs, dit is vroeg in die oggend geneem en die eienaar het alreeds koelte gesoek.



Die olifant is omtrent realisties. Ek hoop net dat die hout wat gebruik is om die beelde te kerf en die hoop hout wat te koop aangebied word, van dooie bome afkomstig is. Dit kos baie jare swaarkry vir 'n boom om so groot te groei in Namibia.  Dan moet mens ook bylas, daar is sekerlik ook baie werk in hierdie beelde en potte.

Daar is min plantegroei in die droë gebiede van Namibië sodat alle plante in die suide gesien moet word as raar en daar is 'n paar aalwyn soorte wat skaarser as die gewone "skaars" is.

 Aloe pachygaster groei in uiters moeilike omstandighede by Aus in die suide van Namibia. Droog en baie koue winters. Dit is die koudste deel van Namibie. Ons het nie tyd gehad om vir Aloe pachygaster te gaan soek nie, gelukkig kon ek mooi fotos neem van Aloe pachygaster in Windhoek se Botaniesetuin.



Fotos van Aloe hereroensis in hulle habitat toe alle plante grasgroen was in die begin van die jaar in die oorvloed reën en Aloe hereroensis in blom September.




Verskoon die herhaling, dit is moeilik om op te hou praat van die reën in Namibië




Aloe hereroensis kom voor oor 'n wye gebied in Namibië. Die fotos onder is geneem in die ou begrafplaas van Usakos. Ons het verwag dat die aalwyne daar ook in blom sal wees maar blykbaar was die reën hier nie genoeg nie.

Dit was 'n vinnige toer deur die suide van Namibia tot by Windhoek. Met fotos van 'n aalwyn of twee. Daar was nie tyd vir die rare aalwyne soek nie, maar gelukkig kan mens die natuurskoon nie miskyk nie.